Wie Is Ons?

Naby waar ‘n eensame doringboompie dekades gelede op ‘n bult waggehou het oor die wye vlaktes in die suidweste van Bloemfontein, troon die betonstruktuur van Bloempark se kerkgebou vandag uit bo ‘n see van bome en dakke in Fichardtpark.

Bloempark is in 1979 uit Bloemfontein-Suidheuwels afgestig met ds. J.P.L. (Johan) van der Walt en sy vrou, Duba, as eerste predikantspaar. In sy bedieningstyd is die kerkgebou in 1982 opgerig. ‘n Lidmaat, Jan Vorster, was die bouer. Weens ‘n skaarste aan bakstene is groot dele van die indrukwekkende struktuur gebou met etlike betonblokke van ses ton elk wat op die terrein gegiet is.

Onder leiding van ds. Van der Walt het verskeie lidmate saans en Saterdae geesdriftig en kreatief kom help met die afrondingswerk. Die sierlike kansel is gemaak en geskenk deur Pieter van Loggerenberg.

Uit die uitgrawings vir Suidheuwels se saal is ‘n groot klip met ‘n holte gehaal wat iewers as voëlbad moes dien, maar ds. Van der Walt het ander planne daarmee gehad. Dit pryk vandag, uitgevoer met ‘n koperplaat, op ‘n voetstuk gemonteer as besonderse doopfont. ‘n Simbool van Bloempark se bande met Suidheuwels.

Die stroop het geloop! Baie duisende koeksisters is deur die susters in verskeie huise gebak om die pragtige pyporrel te betaal en baie ander projekte, selfs spyseniering, is op groot skaal aangepak om te help met broodnodige uitgawes.

Ná die voltooiing van die kerkgebou en ds. Van der Walt se vertrek in 1983 is bouwerk aan die kerk van Christus voortgesit deur dr. G.C.P. (Gerrie) Labuscagne. Hy sy vrou, Alice, het van 1983 tot 2009 in die gemeente gearbei.

Ds. H.J. (Hansie) Vermeulen is in 1986 beroep. Hy het tot sy vroeë dood in 2007 in Bloempark gearbei en sy vrou, Susan, woon steeds in die gemeente.

Ds D.G. (Dinant) Zwemstra en sy vrou, Tanya, het in die gemeente gedien tot einde November 2015. Gou daarna is ds. I.H. (Zak) Scholtz en sy vrou, Tanya, in die gemeente verwelkom.

En vandag, na al die jare van genade, kan elkeen bid vir Bloempark se visie dat ons deur Christus ligdraers vir die wêreld wil wees, en vir ons missie om as eenheid te funksioneer om na binne en na buite God se groot opdrag uit te leef en die liefdesgebod sinvol te gehoorsaam deur uitvoerbare aksieplanne.
Dit kan gedoen word as elkeen sy/haar gawes ontdek en dit doelgerig aanwend om mekaar en God te dien.

Werk saam en bid dat Bloempark soos ‘n lamp op ‘n berg in ons stad en omgewing sal wees, en God se Koninkryk sal kom in elke huis en elke wyk en in ons begenadigde gemeente.